Sweet en Swede

Augustus 23, 2007

En net toe die winter uiteindelik sy laaste stuiptrekkings hier in die suide kry, lyk dit asof ek weer ‘n ander winter binne gaan vlieg. Ek moan niks! Wie kan nou kla as hulle twee keer in twee jaar geleentheid kry om die mooie Swede te gaan besoek! Ek gaan ‘n draai maak by die ateljee waar my CD gemeng is, bietjie minder as ‘n jaar gelede. Hier is ‘n fototjie van Robban en Roberto, die twee trawante aan wie Boo (nee, nie die verkleurman se ou band nie! Die ateljee in Stockholm) behoort. As ek gelukkig is kry ek dalk weer ‘n Mamma Mia kaartjie gewangle – die is mos twee seisoene voor die tyd al uitverkoop dan sal ek regtig NIKS kla nie, al reën dit elke dag!

Intussen het ons ‘n lekker nuwe vertoning bymekaar – hierdie keer met ‘n violis by. Die musikante vir hierdie nuwe vlam uit die rooi draak se bek is Wayne Purchase op klavier, Elena Zlakova (van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes) op viool en die briljante Luke van der Merwe (van Noot vir Noot) op kitaar. En hulle mag maar speel. Dit gaan ‘n mooie kesert wees. Die eerste van hierdie opvoerings sal wees by Jan Harmsgat se agterplaas die 12de Oktober. As jy weet van nog plekke waar die rooi draak musiek kan kom spoeg, los ‘n opmerking hier of skryf vir my by info@sunieda.com.

Gamla Stan - die ou stad…dis 3-uur in die môre

Ek moet darem ook net eers my hoed afhaal vir Steve wat sy spoegblok se gereeld diens. Liewe aarde, en hy het nog ‘n vrou en kinders ook….

Advertisements

Terroriste en Telefoonkabels…

Mei 18, 2007

Dit was lank stil aan hierdie kant as gevolg van gesteelde kabels, maar die kabels is terug en ek ook!

My John Deere Hier is ek op die trekker waarmee ek eendag gaan opdaag by vertonings! Upington was ‘n heerlike uittog (ek het daar opgetree by die Landbou Expo). Wat ‘n mooie wêreld. Ons het eintlik meer Louisvale se kant toe, langs die magtige Oranjerivier geloseer by Jeanie en Johnny Underhay. Jeanie het ook aangebied om van my CD’s in hulle winkel OU MIDDELPOS 24 te verkoop. Gaaf, nè? So as jy nou daar sou verby ry …

Ek het ook hope inspirasie vir my eie huis in Jeanie se lekker blyplek gekry: veral vir die badkamer. Die gevolg is dat ek met sakke vol ysterklippe teruggekom het huistoe. In Keimoes het ek ‘n paar kokerboompies gekoop wat ek met liefde gaan versorg, sodat hulle ook sulke mooi prentjies teen die volmaan kan maak. Laat een aand, tussen die klipkoppies van Riemvasmaak, het ons na Piet van Wyk de Vries se “Madelein” geluister. So langs ‘n windpomp, onder die volmaan met die rooskwarts wat so glinster.

Toe weet ek: Dis hoekom ek huistoe gekom het!Kokerboom

Bromponies en bakkies

April 29, 2007

In Taiwan word jy gebore op ‘n bromponie – so jy weet hoe om hom te ry. Die mense ry woes en vinnig, maar tog sien jy minder ongelukke as wat mens sou verwag. Omdat almal op dieselfde (miskien onverskillige) manier bestuur, en almal dieselfde interpretasie (of waninterpretasie) van die padreëls het, bestuur die mense wakker en toegeeflik: Jy verwag mense gaan uitry uit systraatjies, verwag dat hulle voor jou gaan inswenk, en gee maar toe. Ek dink die  aanspreeklikheid wat geld tydens ‘n ongeluk het ook iets met hierdie toegeeflike gesindheid te doen. Die mate van aanspreeklikheid neem toe, hoe groter die perdekrag is: met ander woorde, in ‘n ongeluk tussen ‘n Iveco-lorrie en ‘n Toyota-karretjie nie, sal die Iveco betaal; tussen ‘n bromponie en dieselfde karretjie, sal die Toyota-bestuurder betaal, tussen ‘n bromponie en voetganger …tensy dit ‘n super-sized Amerikaner blyk te wees…sal die bromponiebestuurder waarskynlik betaal. Die punt is dat jy verantwoordelik is om uit te kyk vir die kleiner outjie, nie om hom te wys wie is die sterkste nie, want jy gaan betaal. Ek hou daarvan – maak almal bietjie meer versigtig!

 

Dit sou wonderlik wees as meer mense hier bromponies kon ry, want die petrol is ‘n hjelse ding. In Taiwan verf die goewerment ‘n blok van so ongeveer 3 meter voor in die baan by elke verkeerslig, gereserveer vir bromponie-, fiets- en motorfietsryers. Dit beteken jy zirrts verby die ou in die 4X4, en gaan staan voor hom. Ek dink die ouens hier sal ‘n effense problem hê met die ge-“ indrukkery”: die ouens in die wit Hilux bakkies is klaar vies as mens bietjie verbyskuur: ek reken dit maak sin dat die groot ouens sien waar jy op die bromponie is – reg voor hulle – sodat hulle jou nie omry nie. Maar die ego…o, die ego. Dan moet hulle ook maar bromponie ry!

Hulde en hooi

April 17, 2007

…En daar lê ‘n hele week voor SONDER ‘n vakansiedag! Ek kyk Vrydag-aand “Kom bietjie binne” en Jennifer Jones in sulke suiwer, mooi uitgesproke Afrikaans dat ek verstom staan! Glad nie sleg nie. Ek skaam my amper vir al die platvoerse, onnosele Afrikaans wat mens (nogal gereeld) in musiek hoor.

Op die Kwêla-insetsel van laasmaand het ek so mooi gebedel vir iemand wat ‘n beton-dak wil borg en toe redigeer hulle daai deeltjie uit: so besluit ons om eers met gras te gaan – tot die betonmagnaat sy verskyning maak. Bestel toe die 10 000 bonneltjies hooi vir ‘n begin. Sal die man wat kom aflewer sowaar nie dink ‘n nooi wat self huisbou kan die verskil tussen 7 000 en 10 000 bondeltjies hooi sien nie! Lekker uitgevang, … ek’s mos nie net nog ‘n varkie wat ‘n strooihuis bou nie? Oprah sê “hou op kla oor wat jy nie het nie: vra vir wat jy wil hê”. So wys ek toe maar vir die man sy faktuur wat vra vir 10 000 bondeltjies se prys, en wys op die 3 000 bondeltjies wat ek graag nog wil hê. Ja, ek vergewe hom dat hy so glad nie kan tel nie, hy’t mos in Suid-Afrika skool gegaan.

 
En ek oefen kliphard vir die vertoning in die Pierneefteater. Die 12de Mei, mos? Ek het vir Luke van der Merwe op kitaar, en Ryno Posthumus op klavier ingespan. Dit is my eerste keer in hierdie teater, maar hulle sê verandering is ook vakansie, so ek vat my sonskerm en padkos saam.

CDverkope styg die hoogtes in

April 9, 2007

….nee, nog nie so erg nie, maar dit lyk goed. Ek het gistermiddag (dis nou Sondag) die voorreg gehad om ‘n gaskolletjie saam met Piet van Wyk de Vries te doen – hy sing elke Sondag-middag by die Karoo-kafee in Lynnwoonstraat- en dit lyk my ons gaan dit ‘n weeklikse instelling maak. Omdat ek en ek en ek die enigste afsetgebiede vir my CD’s is, is dit die manier om een van hulle in die hande te kry. Die Karoo Kafee het ‘n rustige atmosfeer. Mens kuier lekker daar.

Aan die Sonvanger: baie dankie vir die mooie woorde: ek sal definitief sorg dat jy ook ‘n pen kry tydens die Pierneefteater vertoning…AS jy mooi saamsing!

welkom by sunieda se spoegblok

Maart 27, 2007

Hi!, hiermee dan nou die amptelike launch van my blog, maak gereeld ‘n draai om op hoogte te bly van al my doen en late.

Praat later…